Koperplaat, Soldeeryster, Soldeeryster houer (stand), Staaf soldeersel, Flux met borseltjies, tanjetjies
Om met koperplaat te werk is pure plesier - dit kom in rolle van ongeveer 50cm wyd en ongeveer 10 meters op 'n rol. Koperplaat is beskikbaar by meeste arts en crafts winkels. Dit is uiters buigsaam en werkbaar en ook maklik om te sny met 'n gewone skêr, alhoewel jy nooit weer die skêr vir gewone huishoudelike gebruik sal kan gebruik nie!
En deur koper bedoel ek COPPER, nie BRASS nie. Koper is rooierig en brass (geelkoper) is geel. Ek werk partymaal met geelkoper, maar baie min.
Ek gebruik koper nie alleen en op sy eie nie, met ander woorde, ek soldeer artikels aan die koper vas. Koper is 'n wonderlike hitte-geleider en baie maklik vatbaar vir soldeersel. Ek omlyn die koper ook met die soldeersel om 'n afgewerkte voorkoms te gee en om die skerp kante te bedek.
'n Mens kan omtrent enige iets uit hierdie koper ontwerp - vierkantige, ronde of enige vorm plat collages, waaraan jy dan items soos kristalle, stukke glas of krale kan vas soldeer as 'n muurbehangsel teen die muur of in die tuin.
Ek gebruik dit baie vir my juweliersware, asook om items soos sigaretaansteker-houers, asbakkies, borde en pierings, omranding vir 'n spieël, besigheidskaartjie-houers, 'desk tidies', sneesdoekie bokse (tissue holders) en nog vele ander te maak - gebruik jou verbeelding.
Koper en Glas saam gebruik - die koper is gepatineer met 'BlackIt' om 'n antieke voorkoms te gee
Om artikels uit koper te maak, sny 'n stuk koper van die rol af ongeveer so groot soos jy dink jou projek gaan wees. (As jy te klein sny, kan jy altyd 'n stuk aanlas met soldeersel.)Maak dit plat met 'n roller (Dit is ook beskikbaar vanaf kunswinkels) en wees versigtig vir die skerp punte aan die kante. Gebruik handskoene as jy kan. Jy kan met 'n spesiale koper "scribe" (dit is 'n tipe pen met 'n metaal punt) jou vorm op die koper teken en dan uitsny. (Ek gebruik baie maal sommer 'n ou BIC pen om mee te teken.)
Stuk gesnyde koper en 'n soldeerstaaf
Jy kan ook vry-vorm stukke koperplaat neem en dit met die hand buig en verwerk in 'n abstrakte vorm. Ek gebruik ook 'n klein platneus- of ronde-neus-tanjetjie om te help met die buigwerk.
Voorbeelde van Koper gebruik in vry-vorm - borsstukke uit Koper met Glasjuweel. Die koper en soldeersel is gepatineeer om 'n antieke voorkoms te gee.
Om items aan die koper te soldeer, sal jy 'n soldeeryster nodig hê - ek gebruik 'n Weller temperatuur-gekontroleerde soldeerbout met verwyderbare punte, wat in allerhande diktes beskikbaar is. Maar enige soldeeryster is goed genoeg, en maak seker jou koop ook 'n houer waarin die soldeeryster rus wanneer dit nie in gebruik is nie. Werk versigtig met die soldeeryster, dit kan verskriklike brandmerke veroorsaak.
Weller Soldeeryster op houer
Soldeersel kom in stawe of rolle en dan sal jy ook "Flux" (dis 'n vloeistof) nodig hê wat die katalis is tussen die soldeersel en die koperplaat. Neem 'n klein borseltjie (daar is spesiale flux borseltjies beskikbaar), dip dit in die flux en smeer dit aan die rand van die koper. Vat dan die soldeerbout en die soldeerstafie en soldeer klein stukkies soldeersel aan jou kopervorm. Dit gee die eerste lagie en enige items wat jy nou gaan aan soldeer, sal maklik verbind.
Om te soldeer, hou die soldeerstafie of rolletjie in jou linkerhand, hou dit so na moontlik aan die koper en, met die soldeerbout in jou regter hand, verhit die soldeersel en laat dit op die koperplaat drup - maak dit dan gelyk deur dit met die soldeerbout liggies oor die plaat te "trek". Wees versigtig vir soldeersel-spatsels en gebruik 'n beskermende bril.
Alhoewel die koper sigbaar is in baie van my projekte, bedek ek meesal al die koper met die soldeersel om 'n silwer voorkoms te gee. Die rede hiervoor is dat die koper koperkleurig is en die soldeersel is silwer. Derhalwe kry jy twee kleure. Ek patineer ook baie van my ontwerpe om dit 'n antieke voorkoms te gee en wat die silwer in amper swart verander.
'Bloekomblaar' - 'n Stel oorbelle gemaak uit koper en liggies gepatineer met 'BlackIt'
Jy kan enige plek werk met jou koper, maar 'n ideale plek is 'n spesiale kamer of studio wat jy inrig spesiaal net vir al jou kunswerk-aktiwiteite. Ek het 'n 4m x 2m kamertjie ingerig met 'n L-vormige sementblad met rakke onder en bo dit waarop ek al my benodigdhede pak. Ek het ook hakkies aan die houtrakke aangebring om draad en soorgelyke goeters te hang. 'n Vereiste is 'n elektrisiteits-prop vir jou soldeeryster en dalk ook 'n lamp as die beligting nie te goed is nie.
My 4m x 2m Studio waar ek al my kunswerk doen
My 4m x 2m Studio waar ek al my kunswerk doen
My 4m x 2m Studio waar ek al my kunswerk doen
LYS VAN BENODIGDHEDE :
- Koperplaat
- Roller
- Soldeeryster met houer
- Soldeersel - rol of stawe
- Bottel Flux
- Flux borseltjie
- "Scribe" of pennetjie om mee te teken
- Handskoene
- Beskermende bril
- Skêr
- Platneus- en/of rolneus-tanjetjie
- Groot tafel of werk area
::

